MY MA SE WERKSMANDJIE
Moeder se
werksmandjie is vol van onthou-goed!
Stukkende sokkies, knope wat aangewerk moet word, wol, garetolletjies,
spelde, en skêre. Hierdie items voer ‘n
heerlike gesprek met mekaar …
Die wit
skoolsokkie kla aaneen, en haar gesanik raak meer en meer entonig : “Ek moet
elke dag skool toe gaan en ek moet heeldag in die klaskamer sit en luister na
die juffrou se temerige stem. Ek word
rondgeskuifel in die bedompige ou skoolskoen, en wanneer dit pouse is, word ek
geskuur en geskaaf teen die swart skoolskoen wanneer Ousus uitbundig
rondhardloop en speel. Ek het maar
besluit om te sorg dat ek deurgeskaaf word sodat ek ‘n rukkie in hierdie
werksmandjie kan rus voordat die Moeder my weer stop!”
Die groen en
wit gestreepte rugbykous sing ‘n heel ander deuntjie : “Boetie het my gedra toe
hy rugbyproewe gespeel het. Ai, dit was ‘n fees om deel te kon wees van al die
opwinding. Die skare wat uitbundig
geskree en gejuig het toe hy die wendrie aangeteken het, was die toppunt van my
lewe! Ek was sò spyt dat ek deurgeskaaf
was en dat ek nou hier in die werksmandjie moet lê en wag totdat die Moeder my
kan stop!”
Wol sê ewe
selfvoldaan: “Ja, Moeder kan niks sonder my herstel nie – ek is tog ‘n
noodsaaklike deel van die heelmaakproses.
Ek sien daarna uit om in die rugbykous ingeweef te word sodat ek ook
deel kan wees van die volgende rugbywegstryde.”
“Aag,” sê
die wit garetolletjie, “my beurt sal ook kom.
Sommer binnekort sal ek ook gebruik word om die skoolsokkie weer
splinternuut te maak. Ek weet sommer dat
wanneer die werkie klaar is, my sokkie-maatjie weer nuwe moed en entoesiasme
vir die lewe sal hê. Sy sal nie meer oor
Sus kla nie, en sy sal al die spelery en rondhardloop saam kan geniet!”
Die bont
spul knopies wat in die glasbotteltjie is, lag en gesels so opgeruimd dat mens
amper nie die ander stemme kan hoor nie.
Dit klink soos ‘n klompie vrolike vinke wat in die groot boom in die erf
kwetter en rinkink! Hulle kan nie wag om
op Sus se rokkie, Boetie se trui, en Moeder se jas aangewerk te word nie. Ek het gehoor dat Moeder beplan om ‘n
pragtige naaldwerk kuns-item met ‘n groot deel van die knope en al die
helderkleurige garings te maak. Ek is
seker die knope het dit ook gehoor en dat dìt die rede is waarom hulle so opgewonde
is!
Moeder se
werksmandjie word nooit leeg nie. Elke
dag word items bygevoeg en die stories van die kledingstukkies word àl hoe
interressanter. Nuwe gare en wol sal
gekoop word en naalde en spelde sal aangevul word.
Ek is nou ‘n
Moeder, en ek wonder watter stories en
klaagliedere die artikels in MY mandjie onder mekaar uitgeruil sal word!
Linnie
21 April 2015
2 comments:
I have Mommy's pin cushion!
Die interessante dinge wat uit so mandjie kom ...
Post a Comment