Total Pageviews

Wednesday 8 April 2015

Taal : 7 April 2015

TAAL

Moedertaal : Is dit die taal van jou moeder, of die taal wat jy van kindsbeen af ken?  As jou moeder Afrikaans en Engels was, wat kan dan beskryf word as jou moeder se taal?  As dit die taal is wat jy van kindsbeen af ken, kan ek dalk sê ek is Engels gebore en Afrikaans ingesout, en nou volwaardig ‘n tweetalige mens.  Lekker deurmekaar, né!  Dan begin die siklus weer van voor af : watter taal kan ons dogters as Moedertaal beskou ...  die wiel draai aanhoudend!

My  Moeder
Om tweetalig te wees, kan nogal interessant wees.  Ek weet nie eintlik in watter taal ek droom nie : Engels of Afrikaans – maak nie saak watter een nie.  Wanneer ek bid, is dit in Engels; wanneer ek Bybel lees, voel ek gemaklik in Afrikaans, maar ek het steeds my Engelse Bybelvertaling waarop ek kan terugval wanneer ek so voel. 

Gewyde liedjies wat ek gesing het as kind, sal my altyd bybly (ons het sommer àl die versies in die Sondagskool en Kerk gesing).  Nou nog bring dit ‘n gevoel van heimwee terug in my gemoed wanneer daardie Hymns oor die radio gesing word.  Ja, ons luister nog radio – en ook die gewyde programme wat al hoe skaarser geword het!  Baie van die Hymns laat situasies en mense binne ‘n oogwink deur my gedagtes flits.  Dan kan ek verstaan hoe hulle kan sê dat as ‘n lewensbedreigende krisissituasie dalk opduik, jou hele lewe binne breuke van sekondes terugflits.  Nouja, hierdie Hymns doen dieselfde vir my – party laat my glimlag, en ander bring trane van herinneringe in my oë.

“All People that on Earth do dwell ...”  Ou Mr Heath was die Superintendent van ons Sondagskool, en elke Sondag was dit die openingslied – so op ‘n stàdige pas wat met mening op die vals klavier begelei is.  Dit was ellendig vir ons kindertjies om so lank te  sing, nog voordat die Sondagskool eintlik begin het!  Dan staan ek nog en bekommer my omdat ek nie die gegewe teksversie vir die dag geleer het nie.  Hoe kan hulle dan sê kinderdae is dae sonder stres en kommervry?

Ek kan nie Psalm 23 met sy deskant in die Kerk sing sonder om dit so saggies in Engels te sing nie!  Ag, dis maar net so ingebore en diep in my wese ingeprint.
Girls High in Pretoria se Vrydag-oggend saalbyeenkomste was aanskoulik.  1 200 meisiestemme wat uit volle bors hierdie Psalm in verskillende stemme sing, was genoeg om enigeen hoendervleis te gee.  Té lekker!

Mens kan borduur met taal en woorde : Die hond spring.   Die swart en wit kolletjies hondjie spring uitbundig en opgewonde op teen sy baas se bene wanneer dié by die huis aankom.  ‘n Gewone swartbord van woorde kan omskep word deur ‘n helder en kleurvolle tuin van woordbeskrywings wat mens met vreugde en afwagting verder wil lees.

Dìs ‘n paar van die wonders van TAAL                                                  7 April 2015

3 comments:

Anonymous said...

Ja 'n interessante vraag: Nou wonder ek ook of en in Afrikaans of Engels droom - dink beide

Unknown said...

Klink soos 'n mixed grill. Mooi

Douglas said...

Thank you very much. I enjoyed this one immensely