Total Pageviews

Friday 10 April 2015




PADKOS

Padkos!  Hierdie towerwoord wat so opgewonde en uitbundig in ons kinderdae genoem is, hou soveel herinneringe vir ons uit ons kinderdae.

Die langverwagte jaarlikse vakansie by die see het uiteindelik aangebreek.  Mom pak die piekniekmandjie  en kry alles gereed – met al die heerlike, verrassende eetgoedjies waaraan ons onder ‘n boom langs die pad sal gaan smul.  Ons kon nie wag om ver genoeg van die huis af te ry, voordat ons kon stilhou nie.  Ai, ons  geneul en  kla dat ons kamtig  darem verskriklik honger is, en dat ons nie een enkele oomblik langer  kon uithou, het ons ouers tot reserny gedryf.  Uiteindelik is ons volgens Dad ver genoeg van die huis af, en ons kry die perfekte boom  waaronder ons kon stilhou.



Alles is sorgvuldig op die tafeltjie uitgepak – ons kinders trippel rond en jaag mekaar, terwyl alles mooi gereed gekry word.  Daar is toebroodjies met die heerlikste vulsels van kaas en tamatie, appelkooskonfyt en fyngemaakte eiers met mayonnaise (natuurlik nie alles saam op een broodjie nie!).  Dis darem sò lekker om sommer meer as een of twee broodjies te neem.  Skelmplies natuurlik, want wie gaan nou eintlik tel hoeveel ons eet.  Frikadelle was Dad se bestelling, gekookte eiers was Mom s’n,  boerewors was sommer almal s’n!  Ons moes net mooi deel, want onthou, die pad is nog lank voordat ons by die see sou uitkom.   Een van die flesse koffie is ook sorgvuldig tussen ons almal gedeel.  Ons bêre die ander vir die volgende stilhou.  Die karre snel verby en blaas hul toeters, en ons kinders waai en groet al skreeuend :  Ons gaan tog see toe, wê wê wê!

Daar het nie veel verander nie :  in volgende generasie se tyd is alles presies dieselfde – dieselfde padkos, dieselfde koffie, dieselfde opwinding.  Of nee ek jok, deesdae soek ons darem ook ‘n Engen-garage waar ons  takeaway Wimpie-koffie vir die pad kan koop.  Dìs nou ‘n spesiale vergunning wat nie by die padkos-storie gereken word nie!

Die lang pad see-toe is korter gemaak met ons kinders wat motorregistrasienommers moes probeer onthou.  Ons moes ook kyk wie al die syfers kon optel voordat die verbygaande kar te ver weg is.  “I spy” was ook ‘n gunsteling, en natuurlik het ons ook maar gekroek en dinge “gesien” wat ons lankal verbygery het!

In my kinderdae, was die grootste kompetisie om te sien wie eerste die see sien.  Eintlik dink ek hierdie speletjie is deur Mom uitgedink om ons kinders ‘n bietjie afleiding te bied, en om vir Mom en Dad bietjie rus te gee.

Toe ek en Fanie se kinders klein was, het ons dieselfde kompetisie gehou – met dieselfde redes as toe ons kinders was.

“I can see the sea! I can see the sea!  I can see the sea “... tot vervelens toe het ons hierdie uit volle bors gesing-skree!  En ons twee dogters nou weer : “Ek sien-die –seee! Ek sien-die-seeee! Ek sien-die-seee!”

Padkos en vakansie is sinoniem, en albei word met tere herinneringe gekoester en op ‘n spesiale plekkie in ons harte gebêre.

6 comments:

Unknown said...

Woorde wat só waar is!

Ann said...

Don't forget Mom's meat pie! That was the best! Many memories :)

Cecile said...

Ja en ons en ons kinders het die derde generasie voortgesit om te sien wie eerste die see sien. Mooi geskryf Mams

Unknown said...

Ons kinder kan gewoonlik nie eers 5 min wag voor hulle begin vra vir padkos nie ... Baie goeie herinneringe mams!

Douglas said...

Eisch Nouis ek weer honger...

Suzanna Bates said...

Your writing about such ordinary stuff is so wonderful!!