Total Pageviews

Wednesday 8 April 2015

Sop : 6 April 2015

SOP


 Watter keuse is myne?

Dalk  is dit ‘n pot dik lensiesop, soos in die Bybel se dae, toe Esau sy eersgebornereg aan Jacob verkoop het in ruil daarvoor.  Hierdie sop moes darem maar heerlik geruik het nadat hy doogmoeg en uiitgehonger uit die veld teruggekeer het!  Ja, deesdae se lensiesop sal seker nie naby daardie reseppie van Jacob kom nie.

Of dalk is dit dik ertjiesop met die gebruiklike spek daarin.  Dit het al menige mense laat kwyl van lekkerkry,  nadat dit heeldag op die koolstoof geprut het en die geure daarvan dwarsdeur die huis getrek het.

Dan is daar boontjiesop -  natuurlik ook met lekker spek gemaak.  … Noodsaaklik om die “musiek” uit die bone te spoel anders kan dit ontploffings veroorsaak!

Heerlike dik groentesop of dun waterige groentesop?   Wel, die lekker ryk, dik en heilsame groentesop is darem maar vir my die lekkerste van almal.  Twee sappige “shinbones” met genoeg vleis en murg is noodsaaklik.  Dan ‘n verskeidenheid groente van eie keuse.  Soms is dit regte egte sopgroente soos ons in die oudae geken het …  nee, nie regtig so nie, want waar kry mens deesdae witwortels en rape in die bondel sopgroente saam met ‘n stewige handvol seldery en pietersielie?  Nogal ‘n tiekie se sopgroente soos ek uit my kinderdae onthou.  Mom het altyd, met haar fyn humorsin, gesê : “Nie te veel pampoene nie!”   Deesdae is dit sommer ‘n paar wortels, ‘n aartappel of twee, ‘n ui, selderyblare en ‘n klein  bossie pietersielie.  Nogal voordelig om so dan en wan die yskasdeur oop te maak om te kyk watter rykdom en mengelmoes van groentes daar die week oorgebly het van daaglikse kooksels.  Oorblywende slaai is ook ‘n goeie aanvulling!  Dit moet lank  op die stoof prut sodat die sopvleis sommer van die sopbene afval, en die groente moet die sop vanself dik kook!

As die groente dalk die sop nie dik genoeg maak nie, kan mens altyd die donderstokkie nadersleep (of mens kan dit  zirrts, soos ons dit in ons huis noem)!

Natuurlik moet die kastrol sop groot genoeg wees om so twee of drie margarienbakkiesvol vir die vrieskas oor te hou.  Dis nou vir die dae wanneer mens se kreatiewe daaglikse spyskaarte opgedroog het, of selfs wanneer mens net effens lui is om baie moeite doen.  Gelukkig is Manlief baie dol oor sy sop!

Daddy het altyd sý sop so slurp-slurp met sy lepel uit die sopbord geniet!  Nou-nog, sal ons nie sop kan geniet nie sonder om met ‘n vonkel in die oog, ‘n paar lepelsvol te slurrrp in herinnering aan ons oorlede Dad !


6 April 2015

4 comments:

Unknown said...

Natuurlik met tamatirsous en worcestersous ook

Cecile said...

En die blokkies gebotterde brood

linniegee said...

Ooo jaaaa

linniegee said...

Ooo jaaaa