Total Pageviews

Wednesday 8 April 2015

SONSKYN

Helder sonskyn wat oor die aarde skyn, beteken iets vir almal

Soggens vroeg wanneer die lug koel is en die gras nog natgedou is, is die skaduwees nog lank en koel.   Die grasperke is heldergroen en alles is vars en skoon.  Die strale streel liggies  die blomme en blare;  die voëltjies kwetter vrolik in afwagting van die nuwe dag wat aanbreek.


Teen twaalfuur skyn dit met mening.  Dan is die skaduwees op hul kortste.  Die middagson skyn fel en daar is nie veel skuiling vir mens en dier nie. Die dou het lankreeds opgedroog en verdamp.  Die plante wat nie genoegsame water gekry het nie, se blare hang effens - die miere en goggas werk onverpoos om hul dagtake te voltooi en die bye zoem tussen die blomme om nektar te oes.


Ek onthou toe ons as kinders die goue trompette van die  sonskyn-helder “Golden Shower” heining bygedam het.  Ons het die trompetjies afgepluk, eers seker gemaak dat daar geen miere daarin wegkruip nie, en toe die soet stropies daaruit gesuig!  Daar was natuurlik geleenthede wat van ons wél ‘n gogga of twee ook ingekry het!  Hoe smaak ‘n mier?  Wel effens branderig en effens suurderig!!  Ons het die kelkies ingeryg en sonskyn halssnoere en kroontjies gemaak.
Laatmiddag wanneer die skaduwees langer word, en die dinge van die natuur ‘n stadiger pas aanneem, word dit koeler en die skaduwees weer langer.  Dis die tyd van die dag wanneer mens die diere weer in hul krale injaag , en die tyd wanneer die melkkoeie stalle toe kom om gemelk te word.  Ouma-Ouma het nog daardie dae ‘n koolstoof gehad, en laatmiddag was die tyd toe dit gestook is om warm water vir aandbad te maak.  Die reuk  van die steenkoolrook  en die hane wat om die beurt kraai, sal altyd daaraan herinner.


Vroeg-aand is die skaduwees weer langer – alles begin teen ‘n stadiger tempo beweeg.  Dis die tyd wanneer mammas en pappas vanaf hul werk terugkeer, en tyd wanneer kindertjies opgewonde uitsien na hul tuiskoms.  Ons kon nie wag dat Mom by die huis kom nie.  Die eerste welkomwoorde wat ons uitgeroep het was :  waar is ons swieties?  Kan mens dit glo?  Mom was moeg gewerk en die pennies was maar skaars, maar elke dag was daar ‘n ietsie vir ons  in haar  sak, al was dit net vir elkeen ‘n niekkerbol of ‘n heuninggeur wilsonstoffie  ... wat sonskyn in ons lewens gebring het!

9 April 2015


1 comment:

Douglas said...

just hanging on your pen tip Lynn