Total Pageviews

Wednesday 15 April 2015

HARTSEER

Vandag is my gemoed baie vol – Ek het ‘n vriendin wat baie swaarkry.  Sy lê en veg vir haar lewe teen die kanker-monster.  Dis ‘n lang en pynlike stryd en ek wens so daar is iets wat gedoen kan word om hierdie swaar las met ander te deel.  Almal wat haar liefhet, sal met plesier daarin wil deel.  Sy was nog  altyd ‘n ware dame wat mens enige tyd deur ‘n ring kon trek -  Iemand wat enigeen as voorbeeld van lewenslus en skoonheid kan dien.

Veertig jaar gelede, het ons vriende geword.  Ons het by dieselfde skool gewerk en ons kinders was altyd beste maatjies.  Ons was drie gesinne wat oor en weer gekuier het, en die vakansies en saam-eet en kuier was sò verrykend en sommer vol “sports” – soos net ‘n klompie jonggetroudes kan ervaar! 
Die vakansie in Durbs was ‘n fees : die middernag swem in die swembad met ons klere aan was tops; die uiteet by die Chinese restaurant in Weststraat : hierdie het eindelose lagbuie en uitbundige grappe tot gevolg gehad.  Daardie stokkies was darem die beste!  Gelukkig kon die kelner die Plattelanders bietjie touwys maak.  Daarna het ons die eerste keer kennis gemaak met Don Pedro.  Ek kan nie hieraan dink sonder om van oor tot oor te glimlag nie!  Ons het see-uitsig woonstelle gehuur, en het sommer op die balkon in ons draagbare braaidrommetjie vleis gebraai : hoe ànders dan?!

In die tyd tussen toé en nòu, het ons een vriendin gesterf; ons gesinne het van mekaar weggedryf en afstande was groot.  Maar, soos die noodlot dit wil hê, het my vriendin en haar gesin Gordonsbaai toe getrek en jare later het ons ook Kaap toe getrek.  Die kinders is almal getroud en van hulle woon oorsee.  Ons kuier nie oor-en-weer nie, maar ons bly in kontak met mekaar en ons bel nog met verjaarsdae.

Maak nie saak nie – die kosbare herinneringe van goeie tye, sal altyd in my gemoed ‘n ereplek hê.  Ek haal hulle uit, en hoef hulle nie eers blink te vryf nie want hulle skitter soos diamante!

Sterkte my Maatjie!

Linnie

15 April 2015

4 comments:

Unknown said...

Sulke mooi herinneringe! Ek sluk al heel aand kort-kort aan die knop in my keel. Daardie humorsin is steeds daar al kan die ogies nie oopbly nie ...

Suzanna Bates said...

Aw, Lin, so from the heart. xx

Douglas said...

Well written Sis.
Sorry for your loss.

Ann said...

Beautiful memories!