Total Pageviews

Wednesday 8 April 2015

HOENDERS

Die hoender vorm deel van ons daaglikse lewe in baie vorms.

Heel eerste is geen ontbyt volledig sonder ‘n hoender-eier nie!  Of dit nou gebak, geroer of in die vorm van omelet is.  Ek onthou baie goed toe Ouma-Ouma haar eie hoenders in ‘n hok in hul agterplaas gehad het.  Vakansietyd toe ek daar gekuier het, was dit  my werk om smiddae die eiers uit die neste te gaan haal.  Ai, dit was vir my die grootste straf op aarde – daardie rooi hoenderhaan met sy skerp toonnaels,  sy bloedrooi kam  en kwaai oranje ogies was vir my soos ‘n monster wat net in nagmerries voorkom!  Ek moes net vinnig spring om die eiers sommer so in die sakkie wat gemaak is deur my roksoom op te lig, in te pak.  Menige dae was ek in trane, totdat Ouma darem uit die kombuis gekom het met ‘n Shoooo en Swaaiende arms.  Die probleem is gou opgelos en die eiers is toe veilig in die kombuis.  Ja, genoeg om enige mens die hoenders in te maak!

‘n Haan onder die henne ... dié is nou ‘n prentjie wat mens mooi in jou gemoed kan teken en inkleur.  Stel jou voor hoe pronk die meneertjie onder die hennetjies wat kloek-kloek  òf om weg te hol, òf om nader te staan!

Maak ‘n draai in die tuin : die hen-en-kuiken plant wat sommer self baie vermeerder sal waarskynlik iewers pryk.  Toe ek eers begin tuinmaak het, was hierdie een ‘n ou gunsteling wat nie baie versorging nodig gehad het nie.  Ek onthou die hangmandjie op die stoep, met die macrami-gevlegte tou hangmat wat van die balke af gehang het.  Die “cuphook” was so ewe skeef-skeef ingeskroef vir die doel.


Telkens toe ons kinders vir Mom kwaad gemaak het met ons ewige gestry en terg, het sy sommer die hoenders in geword en ons moes maar op eiers loop!  Maar boetie Dougie, wat maljan onder die henne was,  was ‘n regte kapokhaantjie wat gepik-pik en weggehol het.  Dan het hy met smaak koning gekraai, en ons dogters het natuurlik altyd ‘n eier te lê gehad oor sy manewales.  Daar was ook darem dae wat ons lekker saamgespeel het – om al in die rondte te draai totdat ons so dronk soos hoenders was.  Soms het ons so lekker baljaar, dat ons met die hoenders gaan slaap het.  Dit het natuurlik meegebring, dat ons soggens voor die hane kraai al wakker geword het.

Een jaar met Paastyd, het ons kinders elkeen ‘n kuikentjie van ‘n weldoener present gekry.  Dié was die allerfraaiste bondeltjies met geel donsies.  Die piepklein diertjies (elkeen met sy eie besondere naam) is met liefde en sorg vertroetel.  Snags moes hul in hul skoendoos langs ons beddens slaap.  Met tyd, het daar harde, donker stoppels tussen die donse verskyn, en hul beentjies het al langer en langer geword.  Donsies het plek gemaak vir regte egte vere, en voor ons ons oë kon uitvee, moes ons geliefde kuikentjies maar buite in Ouma se hoenderhok gaan woon!  Maar, ons hét darem die vreugde van die Paaskuikens ervaar!  Ek dink Mom was baie verlig toe ons die volgende jaar sjokolade paaseiers verkies het wat in kleurvolle blinkpaper toegedraai was.

Nou het ek my eiertjie gelê!                                                           8 April 2015

3 comments:

Unknown said...

Ek het lekker gelag oor hierdie een. Baie geluk!

linniegee said...

Baie dankie xx

Unknown said...

Ek sal ook maar erder hou by die eetbare paashoenders ...