Total Pageviews

Wednesday 8 April 2015

Bestanddele : 7 April 2015

BESTANDDELE

Neem bestanddele : meel, bakpoeier, suiker, eiers, kookolie.  Twee verskillende mense kan iets volgens hul eie keuse en smaak hieruit skep.

Die eerste persoon, wat nie eintlik van soetigheid hou nie, sal waarskynlik botterbroodjies wil maak.  Haar verhoudings van meel en suiker sal noukeurig uitgemeet word, en dan sal die ander bestanddele in die regte hoeveelhede daarop volg.  Net effens sal dit gemeng word voordat dit versigtig op ‘n meelbestrooide oppervlakte uitgerol en met ‘n koekiedrukker uitgedruk word.  Die botterbroodjies word dan liggies met geklitste eiergeel geverf sodat daar ‘n goudbruin kors gevorm word met die bak daarvan.

Die tweede persoon, wie se voorkeur soeter gebak is, se keuse sal wees om ‘n heerlike sponskoek aanmekaar te slaan.  Versigtig sal die meel en bakpoeier gesif word.  Die olie en eiers sal geklits word en dan sal die droë bestanddele bygevoeg word.  Weer sal hierdie beslag goed gemeng word voordat dit in ‘n gesmeerde koekpan geplaas word om te bak.

Elke oggend wat aanbreek, kan vergelyk word met die bestanddele wat voor die twee dames geplaas is.  Sonskyn, hemelblou lug, groen gras, voëltjies wat kwetter en helder, kleurvolle blomme wat mens sal groet.

Een persoon sal buitentoe strompel met dowwe, nikssiende oë wat met alles foutvind.    Die mond wat op ‘n plooi getrek word, sal geen vreugde kan wys nie.  Die son sal té warm skyn, die bome verloor hul blare op die nuutgeharkte grasperk, en die raserige voëltjies gee hoofpyn.  Die blomme wat helder blom, gaan tog môre verwelk, so daar gaan nie moeite gedoen word om vandag water te gee nie.

Nommer twee gaan na buite.  Met oop en helder oë word die wondere van die Natuur opnuut waargeneem en waardeer.    Die helder blou lug wat so skoon en vlekkeloos lyk, herinner aan ‘n skoon blad waarop die gebeure van die dag geskilder kan word.  Die kwetterende voëltjies wat heen en weer tussen die bome en blare rondvlieg en nessies bou, word raakgesien, en die voëlbad en  kosbak word vir hulle hervul.  Die blare wat vandag geil en groen is, sal waarskynlik binnekort verkleur – dan word dit herfs, wat in volle majesteit in al die skakerings van goud sal seëvier!  Die geil en kleurvolle blomme word met liefde versorg en die dooie knoppe word verwyder om plek te maak vir nuwes.  Water word gegee, want die dag sal waarskynlik warmer word – môre is nog ‘n dag wat weer die vrugte van vandag se liefde en sorg sal dra.

Ek kan nie help om vergelykings te tref tussen die twee baksters, die optimis en die pessimis nie.  Mens kan kies om botterbroodjies of heerlike sponskoek te bak.  Mens kan kies om soggens al die negatiewe dinge van die dag raak te sien, of mens kan die optimis wees wat àlles met dankbaarheid en vreug  ervaar!

Wie sal ek vandag wees?  Die keuse is myne!

7 April 2015
Die mooiste gawes van die Natuur!!

4 comments:

Cecile said...

Kies im elke dag die optimis te wees

Douglas said...

Ja beslis, ek kies ook om elke dag die optimis te wees.
Die houding om die beste te verwag sowel as om die beste in alles te sien.
Om vas te glo dat lig altyd oor die duisternis sal trotseer.
Baie dankie my sussie. Ek waardeer jou opbouende siening.

linniegee said...

Klink na 'n maklike keuse!

linniegee said...

Klink na 'n maklike keuse!