Total Pageviews

Tuesday 21 April 2015


MY MA SE WERKSMANDJIE

Moeder se werksmandjie is vol van onthou-goed!  Stukkende sokkies, knope wat aangewerk moet word, wol, garetolletjies, spelde, en skêre.  Hierdie items voer ‘n heerlike gesprek met mekaar …
Die wit skoolsokkie kla aaneen, en haar gesanik raak meer en meer entonig : “Ek moet elke dag skool toe gaan en ek moet heeldag in die klaskamer sit en luister na die juffrou se temerige stem.  Ek word rondgeskuifel in die bedompige ou skoolskoen, en wanneer dit pouse is, word ek geskuur en geskaaf teen die swart skoolskoen wanneer Ousus uitbundig rondhardloop en speel.  Ek het maar besluit om te sorg dat ek deurgeskaaf word sodat ek ‘n rukkie in hierdie werksmandjie kan rus voordat die Moeder my weer stop!”
Die groen en wit gestreepte rugbykous sing ‘n heel ander deuntjie : “Boetie het my gedra toe hy rugbyproewe gespeel het. Ai, dit was ‘n fees om deel te kon wees van al die opwinding.  Die skare wat uitbundig geskree en gejuig het toe hy die wendrie aangeteken het, was die toppunt van my lewe!  Ek was sò spyt dat ek deurgeskaaf was en dat ek nou hier in die werksmandjie moet lê en wag totdat die Moeder my kan stop!”


Wol sê ewe selfvoldaan: “Ja, Moeder kan niks sonder my herstel nie – ek is tog ‘n noodsaaklike deel van die heelmaakproses.  Ek sien daarna uit om in die rugbykous ingeweef te word sodat ek ook deel kan wees van die volgende rugbywegstryde.”
“Aag,” sê die wit garetolletjie, “my beurt sal ook kom.  Sommer binnekort sal ek ook gebruik word om die skoolsokkie weer splinternuut te maak.  Ek weet sommer dat wanneer die werkie klaar is, my sokkie-maatjie weer nuwe moed en entoesiasme vir die lewe sal hê.  Sy sal nie meer oor Sus kla nie, en sy sal al die spelery en rondhardloop saam kan geniet!”
Die bont spul knopies wat in die glasbotteltjie is, lag en gesels so opgeruimd dat mens amper nie die ander stemme kan hoor nie.  Dit klink soos ‘n klompie vrolike vinke wat in die groot boom in die erf kwetter en rinkink!  Hulle kan nie wag om op Sus se rokkie, Boetie se trui, en Moeder se jas aangewerk te word nie.  Ek het gehoor dat Moeder beplan om ‘n pragtige naaldwerk kuns-item met ‘n groot deel van die knope en al die helderkleurige garings te maak.  Ek is seker die knope het dit ook gehoor en dat dìt die rede is waarom hulle so opgewonde is!
Moeder se werksmandjie word nooit leeg nie.  Elke dag word items bygevoeg en die stories van die kledingstukkies word àl hoe interressanter.  Nuwe gare en wol sal gekoop word en naalde en spelde sal aangevul word.
Ek is nou ‘n Moeder, en ek wonder watter stories  en klaagliedere die artikels in MY mandjie onder mekaar uitgeruil sal word!                                                    

 Linnie     21 April 2015

2 comments:

Ann said...

I have Mommy's pin cushion!

Unknown said...

Die interessante dinge wat uit so mandjie kom ...