Total Pageviews

Wednesday 8 April 2015

Lolla : 5 April 2015

LOLLA


Ons kleine Lolla is nou pens en pootjies in ons  lewe!  Was nie àltyd so nie …

Chippy en Snowy was al baie oud en ons moes noodgedwonge, vol hartseer  en rou, hulle op dieselfde dag groet om ‘n pynvrye lewe in die hondehemel te hê.  Geen honne meer vir ons nie, was die eenparige besluit van ek en Manlief .

Nouja …

Eendag was Manlief baie besig in sy studeerkamer.  Bloekomboom-koop-en-verkoop aanlyn plekkie was heeltyd oop,  Ek stap so ewe ongeërg daar verby en sien iets van honne.  Mmm  Ek sê ook maar niks nie.  Volgende keer sien ek ‘n uitdrukstuk op sy lessenaar : Miniatuur maltesers te koop.  Mmm … ek sê ook maar niks nie.  Weer ‘n draai gaan loop en die volgende dag is die advertensie met rooi omkring.  Dié lê bo-op al die ander papiere! …  mmm ek sê ook nog niks nie!  Ek kon natuurlik nie meer stilbly nie – kom ons gaan kyk net hoe hulle lyk, sê Manlief.  Nouja, met noukeurige padbeskrywings en selfoonoproepe wat die pad na die plaashuis amper doer in die gopse aandui, kom ons darem daar.

Daar was twee wit bolletjies wol!  Onthou, ons KYK maar net!  Een van die tweetjies was baie voor op die wa, en het ons harte gesteel!  Toe kyk ons nie meer nie, maar het ‘n beursie vol geld gehoes om haar in ons huis te werwelkom.

Nou is sy ons aftree-kind.  ‘n Maksi-miniatuur malteser met ‘n groot hart en ‘n laaang tong -   die enigste bederfkindjie in ons huis, en sy kry al die liefde wat ons altyd op ons kinders uitgestort het toe hulle nog in die huis was.  Sy verstààn natuurlik alles wat ons met haar praat, en praat ook terug.  Pens en pootjies diep in ons harte het sy gekruip, en ons is salig gelukkig.

Ja, dit kom maar van kyk!!
Lolla wat 'n hondelewe ly!
5 April 2015

3 comments:

Unknown said...

Ja, dis darem te wonderlik!

Cecile said...

Kyk net wat kom van kyk!!!

Unknown said...

Kyk met jou oë het jul my dan geleer! Kyk nou net ...