KRALE
Toe ek ‘n
dogtertjie was, was een van my heerlikste ervarings om langbeen in die
sonnetjie saam met ons huishulp Anna, te sit.
Sy het my baie geduldig geleer hoe om etniese kralewerk te doen. Ai, die
fraaie kleure van die krale het my oneindig gefassineer, en sy was ‘n
meester onderwyseres “Kom nou Nônna, jy
moet sò maak.” My dom vingers wou net
nie daardie fyn kraletjies raakvat nie en my lang garedrade het gekoek en
geknoop. Uiteindelik kon ek darem spog
met ‘n stuk kralewerk, al was dit skeef en krom – ‘n stuk werk wat soos ‘n
platgedrukte reghoek gelyk het! Maar,
dit maak nie saak nie, want ek het die kuns bemeester! Ek kon later lettertjies in die kralewerk
inweef en kon selfs ander patrone maak!
Vroeg in my
laerskoolloopban het ons in Stilfontein gewoon waar ek in ‘n dubbelmediumskool
was. Ai, wat het ek daardie dae geweet
van “dual medium”! Al wat ek geweet het,
was dat die Afrikaanse kinders, die “Rockspiders” en die Engelse kinders, die
“Souties”, aardsvyande was. Ons het
mekaar gedurende pouses getreiter en geterg, en op die sportveld was dit altyd ONS teen HULLE!
Die
Laerskool en Hoërskool het gronde en ‘n skoolsaal gedeel, en elke Vrydag-oggend
het albei skole saam saalgodsdiens bygewoon.
Hierdie byeenkomste, waar al die kinders uit volle bors gesing het was
genoeg om ‘n graad eentjie te laat sidder!
Om saam met ‘n klomp mansstemme te sing was ook heeltemal nuut. Wat my die meeste getref het, was die
Afrikaanse Godsdiensliedjies wat ons gesing het : “As Hy weer kom .. kom haal
Hy Sy pêrels … al die kindergesiggies, soos die sterre se liggies …” was my
gunsteling. Ek het nie mooi alles verstaan
waaroor daar gesing word nie, maar dit was sò lekker om toe-oog, kliphard saam
te sing! Ek kon my indink hoe al die
mooi pêrels en kindergesiggies in Jesus se Kroon sal lyk! Vergete was die vete tussen die Souties en
Rockspiders – ons het almal saam in albei tale gesing en gebid.
Linnie
27 april 2O15
1 comment:
Pearls and precious gemstones of memory.
I bless you and think of you My Sis.
Post a Comment