DIE ALTA
Die dag toe ek vir my
onderhoud gegaan net – ék die gebore Ingelsman – moes ek die gebruiklike vrae
wat deur die Beheerliggam en Skoolhoof gestel is, tot die beste van my vermoë
beantwoord. Wat is jou beste
eienskap? Mmm Moet ek àl my bates voorlê, of net dié wat ek dink hulle
graag wil hoor? Wat is jou slegste
eienskap? – Nou dìs nogal ‘n onregverdige vragie! Moet ek noem dat ek tot middernag-en-later
graag lê en lees, of moet ek vertel dat my naaldwerkkas taamlik onordelik
gerangskik is. Wat sal nie my kanse om
die pos te kry, in die wiele ry
nie? Toe kom die Ingelse vraag. Gestel deur n stoere boer wat slegs Afrikaans
magtig is. Dit het hom seker baie
bloedsweet gekos om die vraag te stel, en ek moes my been knyp om nie die
glimlag wat gedreig het om my mondhoeke te laat bewe, die oorhand te laat kry
nie! Ewenwel, die pos was uiteindelik
myne – ten spyte van my beste EN my slegste eienskappe. Ek het seker die regte goed gesê!
Die eerste dag in die
personeelkamer het aangebreek. Mooi
woorde van verwelkoming en ‘n see van vreemde gesigte het my oorweldig. Die tweede dag het ek soos ‘n verlore skapie
daar ingestap en sommer gaan sit waar ek die vorige dag gesit het.
Ewe skaam vra ek die dame langsaan of daar spesifieke plekke is waar
mens mag sit. Nee, was die antwoord,
mens sit sommer net waar jy wil. Moenie
glo nie. Na ‘n hele week van ongemaklike
oomblikke soggens, het ek maar besluit op ‘n sekere plekkie by die venster. O wee, net die verkeerde besluit. Antie het ingemarsjeer gekom en op ‘n
nie-so-vriendelike manier met stywe lippies my meegedeel dat ek kwansuis op
haar plek sit!! Die sakie van die
sitplekke is darem uiteindelik
opgelos.
Die parkeerplekke is
natuurlik ‘n ander storie wat op soortgelyke wyse afgespeel het.
Daaglikse roetine het
stadigaan begin en ek was meer op my gemak.
Die eers vreemde gesigte het later minder vreemd voorgekom, maar die
name was maar nog steeds ‘n duisternis in my kop. Baie private byname, wat nie met ander gedeel
is nie, is deur my aan sekeres toegeken
: Klein Mannetjie, Oumatjie, Kleintjie,
Feëtjie, Skynheilig, Tierkat, Uncle en Suutjiespoep – om net ‘n paar te
noem! Daai name het tot die einde van my
loopbaan in my kop gebly!
Ou Stella se lekker
Wimpiekofie, wat nét sy kon maak, was elke oggend se hoogtepunt. Later het die Hoof ook daarvan uitgevind, en
af en toe moes Stella maar inspring en drie in plaas van twee koppies maak!! Later het ons meer gesondheidsbewus geraak, en
die Wimpiekoffie het agterweë gebly om plek te maak vir ons eie swart
Jacobskoffie, met kunsmatige versoeters!
4 April 2015
6 comments:
Lyk my elke dag was 'n fees
Lyk my elke dag was 'n fees
Ons sonskyn meisiemensie
En lag-uit-sy-maag boeta
Goed geskryf
Great going Lynette
Post a Comment