HOENDERS
Die hoender vorm deel van ons
daaglikse lewe in baie vorms.
Heel eerste is geen ontbyt
volledig sonder ‘n hoender-eier nie! Of
dit nou gebak, geroer of in die vorm van omelet is. Ek onthou baie goed toe Ouma-Ouma haar eie hoenders
in ‘n hok in hul agterplaas gehad het.
Vakansietyd toe ek daar gekuier het, was dit my werk om smiddae die eiers uit die neste te
gaan haal. Ai, dit was vir my die
grootste straf op aarde – daardie rooi hoenderhaan met sy skerp toonnaels, sy bloedrooi kam en kwaai oranje ogies was vir my soos ‘n
monster wat net in nagmerries voorkom!
Ek moes net vinnig spring om die eiers sommer so in die sakkie wat
gemaak is deur my roksoom op te lig, in te pak.
Menige dae was ek in trane, totdat Ouma darem uit die kombuis gekom het
met ‘n Shoooo en Swaaiende arms. Die probleem
is gou opgelos en die eiers is toe veilig in die kombuis. Ja, genoeg om enige mens die hoenders in te
maak!
‘n Haan onder die henne ...
dié is nou ‘n prentjie wat mens mooi in jou gemoed kan teken en inkleur. Stel jou voor hoe pronk die meneertjie onder
die hennetjies wat kloek-kloek òf om weg
te hol, òf om nader te staan!
Maak ‘n draai in die tuin :
die hen-en-kuiken plant wat sommer self baie vermeerder sal waarskynlik iewers
pryk. Toe ek eers begin tuinmaak het,
was hierdie een ‘n ou gunsteling wat nie baie versorging nodig gehad het
nie. Ek onthou die hangmandjie op die
stoep, met die macrami-gevlegte tou hangmat wat van die balke af gehang het. Die “cuphook” was so ewe skeef-skeef ingeskroef
vir die doel.
Telkens toe ons kinders vir
Mom kwaad gemaak het met ons ewige gestry en terg, het sy sommer die hoenders
in geword en ons moes maar op eiers loop!
Maar boetie Dougie, wat maljan onder die henne was, was ‘n regte kapokhaantjie wat gepik-pik en
weggehol het. Dan het hy met smaak
koning gekraai, en ons dogters het natuurlik altyd ‘n eier te lê gehad oor sy
manewales. Daar was ook darem dae wat
ons lekker saamgespeel het – om al in die rondte te draai totdat ons so dronk
soos hoenders was. Soms het ons so
lekker baljaar, dat ons met die hoenders gaan slaap het. Dit het natuurlik meegebring, dat ons soggens
voor die hane kraai al wakker geword het.
Een jaar met Paastyd, het ons
kinders elkeen ‘n kuikentjie van ‘n weldoener present gekry. Dié was die allerfraaiste bondeltjies met geel
donsies. Die piepklein diertjies (elkeen
met sy eie besondere naam) is met liefde en sorg vertroetel. Snags moes hul in hul skoendoos langs ons
beddens slaap. Met tyd, het daar harde,
donker stoppels tussen die donse verskyn, en hul beentjies het al langer en
langer geword. Donsies het plek gemaak
vir regte egte vere, en voor ons ons oë kon uitvee, moes ons geliefde
kuikentjies maar buite in Ouma se hoenderhok gaan woon! Maar, ons hét darem die vreugde van die
Paaskuikens ervaar! Ek dink Mom was baie
verlig toe ons die volgende jaar sjokolade paaseiers verkies het wat in kleurvolle
blinkpaper toegedraai was.
3 comments:
Ek het lekker gelag oor hierdie een. Baie geluk!
Baie dankie xx
Ek sal ook maar erder hou by die eetbare paashoenders ...
Post a Comment