PADKOS
Padkos! Hierdie
towerwoord wat so opgewonde en uitbundig in ons kinderdae genoem is, hou soveel
herinneringe vir ons uit ons kinderdae.
Die langverwagte jaarlikse vakansie by die see het
uiteindelik aangebreek. Mom pak die
piekniekmandjie en kry alles gereed –
met al die heerlike, verrassende eetgoedjies waaraan ons onder ‘n boom langs
die pad sal gaan smul. Ons kon nie wag
om ver genoeg van die huis af te ry, voordat ons kon stilhou nie. Ai, ons
geneul en kla dat ons kamtig darem verskriklik honger is, en dat ons nie
een enkele oomblik langer kon uithou,
het ons ouers tot reserny gedryf.
Uiteindelik is ons volgens Dad ver genoeg van die huis af, en ons kry
die perfekte boom waaronder ons kon stilhou.
Alles is sorgvuldig op die tafeltjie uitgepak – ons kinders trippel
rond en jaag mekaar, terwyl alles mooi gereed gekry word. Daar is toebroodjies met die heerlikste
vulsels van kaas en tamatie, appelkooskonfyt en fyngemaakte eiers met
mayonnaise (natuurlik nie alles saam op een broodjie nie!). Dis darem sò lekker om sommer meer as een of
twee broodjies te neem. Skelmplies
natuurlik, want wie gaan nou eintlik tel hoeveel ons eet. Frikadelle was Dad se bestelling, gekookte
eiers was Mom s’n, boerewors was sommer
almal s’n! Ons moes net mooi deel, want
onthou, die pad is nog lank voordat ons by die see sou uitkom. Een van die flesse koffie is ook sorgvuldig
tussen ons almal gedeel. Ons bêre die
ander vir die volgende stilhou. Die
karre snel verby en blaas hul toeters, en ons kinders waai en groet al
skreeuend : Ons gaan tog see toe, wê wê
wê!
Daar het nie veel verander nie : in volgende generasie se tyd is alles presies
dieselfde – dieselfde padkos, dieselfde koffie, dieselfde opwinding. Of nee ek jok, deesdae soek ons darem ook ‘n
Engen-garage waar ons takeaway Wimpie-koffie
vir die pad kan koop. Dìs nou ‘n
spesiale vergunning wat nie by die padkos-storie gereken word nie!
Die lang pad see-toe is korter gemaak met ons kinders wat
motorregistrasienommers moes probeer onthou.
Ons moes ook kyk wie al die syfers kon optel voordat die verbygaande kar
te ver weg is. “I spy” was ook ‘n
gunsteling, en natuurlik het ons ook maar gekroek en dinge “gesien” wat ons
lankal verbygery het!
In my kinderdae, was die grootste kompetisie om te sien wie
eerste die see sien. Eintlik dink ek
hierdie speletjie is deur Mom uitgedink om ons kinders ‘n bietjie afleiding te
bied, en om vir Mom en Dad bietjie rus te gee.
Toe ek en Fanie se kinders klein was, het ons dieselfde
kompetisie gehou – met dieselfde redes as toe ons kinders was.
“I can see the sea! I can see the sea! I can see the sea “... tot vervelens toe het
ons hierdie uit volle bors gesing-skree!
En ons twee dogters nou weer : “Ek sien-die –seee! Ek sien-die-seeee! Ek
sien-die-seee!”
6 comments:
Woorde wat só waar is!
Don't forget Mom's meat pie! That was the best! Many memories :)
Ja en ons en ons kinders het die derde generasie voortgesit om te sien wie eerste die see sien. Mooi geskryf Mams
Ons kinder kan gewoonlik nie eers 5 min wag voor hulle begin vra vir padkos nie ... Baie goeie herinneringe mams!
Eisch Nouis ek weer honger...
Your writing about such ordinary stuff is so wonderful!!
Post a Comment