Total Pageviews

Monday, 20 April 2015

NAME

Ek het al baie gewonder hoe name eintlik ontstaan het.  Ek weet daar is baie tegnies-korrekte menings en stellings hierhoor, maar ek verkies om my eie afleidings te maak.

Wanneer ‘n ouerpaartjie ‘n baie spesiale naampie vir hul kleinding kies, word ure en dae deurgebring op soek na die die perfekte een (of meer as een) wat by hul spesiale bondeltjie sal pas, al is dié nog nie gebore nie.  Deesdae is die taak makliker gemaak omdat mense vroeg tydens die swangerskap reeds weet watter geslag hul baba is.  Dis samevoegings en verbuigings van bestaande familiename wat uitgedink en saamgeflans word.  Want wié wil nou eintlik hul kleinding Gottliep Casparus of Gottlepina Casparina noem!

Volgens tradisie word die manspersone vernoem en as daar net dogters was, moes die arme bloedjies verbuigings van die oupa en pa se name gekry het.  Albei my Oumas se name was eintlik mansname wat aangepas is : Dawidina Johanna en Phillippina Wilhelmina Jacoba – en toe gaan vernoem hulle sowaar weer van die dogters!  Die gevolg hiervan was, dat die moderne dogters hul name gaan verander het of net nooit vir iemand vertel het wat hul regte name is nie!    Wat is in ‘n naam -  Iets om op trots te wees of andersom?

Ek onthou toe ons voor die hele klas moes opstaan en ons volle name aan juffrou moes gee.  En om alles nog erger te maak, moes ons ons ouers se volle name ook gee.  Name word streng alfabeties uitgeroep, en die kinders spring ewe flink op : Peter James, John Paul, Mary Ann, Elizabeth.  Onthou, ek was in ‘n Ingelse skool, en die volksvreemde Afrikaanse name was iets om van te bloos.  Eers het ek my ouers se Afrikaanse name saggies geprewel ... juffrou kon nie mooi hoor nie!  Toe moes ek weer harder praat, en later tot my ontsteltenis moes ek dit nog spel ook!   Aarde sluk my in!  Toe ek groter geword het, het ek sommer vorentoe gestap en in juffrou se oor gefluister.  Nou besef ek dat die juffrouens net te lui was om op te staan, of selfs om briefies huis toe stuur om die nodige inligting te kry!  Dan sê hul ... “Teacher is always right!”

Dan kom die byname wat kinders uitdink.  Ek was in ‘n Engelse Meisieshoërskool.  Daar was nie sulke oulike byname soos in die Afrikaanse laerskole en ook hoërskole nie.  Nee, by ons was dit name soos Patroesk, Fishy, Horsey. Pinny en Brains!  Onnies het ook deurgeloop met name soos Noddy, Hoffie, Brossie, en Ivey!  Ek sien nou nog elkeen van hierdie mense in my verbeeldings-oog en dink aan daardie tye!  Ek wonder of hulle so in my geheue sou uitstaan as hulle net gewone name gehad het.

'n Roos kon geen ander naam gehad het nie – ‘n ROOS is mos ‘n ROOS! 


“What’s in a name? That which we call a rose
By any other name would smell as sweet”         

Romeo & Juliet : William Shakespeare

Linnie

18 April 2O15

2 comments:

Douglas said...


Excellent!

You may continue with brazen vigour!

Ann said...

"Brainy"!!