BESTANDDELE
Neem bestanddele : meel,
bakpoeier, suiker, eiers, kookolie. Twee
verskillende mense kan iets volgens hul eie keuse en smaak hieruit skep.
Die eerste persoon, wat nie
eintlik van soetigheid hou nie, sal waarskynlik botterbroodjies wil maak. Haar verhoudings van meel en suiker sal
noukeurig uitgemeet word, en dan sal die ander bestanddele in die regte hoeveelhede
daarop volg. Net effens sal dit gemeng
word voordat dit versigtig op ‘n meelbestrooide oppervlakte uitgerol en met ‘n
koekiedrukker uitgedruk word. Die botterbroodjies
word dan liggies met geklitste eiergeel geverf sodat daar ‘n goudbruin kors
gevorm word met die bak daarvan.
Die tweede persoon, wie se
voorkeur soeter gebak is, se keuse sal wees om ‘n heerlike sponskoek aanmekaar
te slaan. Versigtig sal die meel en
bakpoeier gesif word. Die olie en eiers
sal geklits word en dan sal die droë bestanddele bygevoeg word. Weer sal hierdie beslag goed gemeng word
voordat dit in ‘n gesmeerde koekpan geplaas word om te bak.
Elke oggend wat aanbreek, kan
vergelyk word met die bestanddele wat voor die twee dames geplaas is. Sonskyn, hemelblou lug, groen gras, voëltjies
wat kwetter en helder, kleurvolle blomme wat mens sal groet.
Een persoon sal buitentoe
strompel met dowwe, nikssiende oë wat met alles foutvind. Die mond wat op ‘n plooi getrek word, sal
geen vreugde kan wys nie. Die son sal té
warm skyn, die bome verloor hul blare op die nuutgeharkte grasperk, en die
raserige voëltjies gee hoofpyn. Die
blomme wat helder blom, gaan tog môre verwelk, so daar gaan nie moeite gedoen
word om vandag water te gee nie.
Nommer twee gaan na
buite. Met oop en helder oë word die
wondere van die Natuur opnuut waargeneem en waardeer. Die helder blou lug wat so skoon en
vlekkeloos lyk, herinner aan ‘n skoon blad waarop die gebeure van die dag
geskilder kan word. Die kwetterende
voëltjies wat heen en weer tussen die bome en blare rondvlieg en nessies bou,
word raakgesien, en die voëlbad en
kosbak word vir hulle hervul. Die
blare wat vandag geil en groen is, sal waarskynlik binnekort verkleur – dan
word dit herfs, wat in volle majesteit in al die skakerings van goud sal
seëvier! Die geil en kleurvolle blomme
word met liefde versorg en die dooie knoppe word verwyder om plek te maak vir
nuwes. Water word gegee, want die dag sal
waarskynlik warmer word – môre is nog ‘n dag wat weer die vrugte van vandag se
liefde en sorg sal dra.
Ek kan nie help om
vergelykings te tref tussen die twee baksters, die optimis en die pessimis
nie. Mens kan kies om botterbroodjies of
heerlike sponskoek te bak. Mens kan kies
om soggens al die negatiewe dinge van die dag raak te sien, of mens kan die
optimis wees wat àlles met dankbaarheid en vreug ervaar!
Wie sal ek vandag wees? Die keuse is myne!
4 comments:
Kies im elke dag die optimis te wees
Ja beslis, ek kies ook om elke dag die optimis te wees.
Die houding om die beste te verwag sowel as om die beste in alles te sien.
Om vas te glo dat lig altyd oor die duisternis sal trotseer.
Baie dankie my sussie. Ek waardeer jou opbouende siening.
Klink na 'n maklike keuse!
Klink na 'n maklike keuse!
Post a Comment