Total Pageviews

Friday, 10 April 2015




PADKOS

Padkos!  Hierdie towerwoord wat so opgewonde en uitbundig in ons kinderdae genoem is, hou soveel herinneringe vir ons uit ons kinderdae.

Die langverwagte jaarlikse vakansie by die see het uiteindelik aangebreek.  Mom pak die piekniekmandjie  en kry alles gereed – met al die heerlike, verrassende eetgoedjies waaraan ons onder ‘n boom langs die pad sal gaan smul.  Ons kon nie wag om ver genoeg van die huis af te ry, voordat ons kon stilhou nie.  Ai, ons  geneul en  kla dat ons kamtig  darem verskriklik honger is, en dat ons nie een enkele oomblik langer  kon uithou, het ons ouers tot reserny gedryf.  Uiteindelik is ons volgens Dad ver genoeg van die huis af, en ons kry die perfekte boom  waaronder ons kon stilhou.



Alles is sorgvuldig op die tafeltjie uitgepak – ons kinders trippel rond en jaag mekaar, terwyl alles mooi gereed gekry word.  Daar is toebroodjies met die heerlikste vulsels van kaas en tamatie, appelkooskonfyt en fyngemaakte eiers met mayonnaise (natuurlik nie alles saam op een broodjie nie!).  Dis darem sò lekker om sommer meer as een of twee broodjies te neem.  Skelmplies natuurlik, want wie gaan nou eintlik tel hoeveel ons eet.  Frikadelle was Dad se bestelling, gekookte eiers was Mom s’n,  boerewors was sommer almal s’n!  Ons moes net mooi deel, want onthou, die pad is nog lank voordat ons by die see sou uitkom.   Een van die flesse koffie is ook sorgvuldig tussen ons almal gedeel.  Ons bêre die ander vir die volgende stilhou.  Die karre snel verby en blaas hul toeters, en ons kinders waai en groet al skreeuend :  Ons gaan tog see toe, wê wê wê!

Daar het nie veel verander nie :  in volgende generasie se tyd is alles presies dieselfde – dieselfde padkos, dieselfde koffie, dieselfde opwinding.  Of nee ek jok, deesdae soek ons darem ook ‘n Engen-garage waar ons  takeaway Wimpie-koffie vir die pad kan koop.  Dìs nou ‘n spesiale vergunning wat nie by die padkos-storie gereken word nie!

Die lang pad see-toe is korter gemaak met ons kinders wat motorregistrasienommers moes probeer onthou.  Ons moes ook kyk wie al die syfers kon optel voordat die verbygaande kar te ver weg is.  “I spy” was ook ‘n gunsteling, en natuurlik het ons ook maar gekroek en dinge “gesien” wat ons lankal verbygery het!

In my kinderdae, was die grootste kompetisie om te sien wie eerste die see sien.  Eintlik dink ek hierdie speletjie is deur Mom uitgedink om ons kinders ‘n bietjie afleiding te bied, en om vir Mom en Dad bietjie rus te gee.

Toe ek en Fanie se kinders klein was, het ons dieselfde kompetisie gehou – met dieselfde redes as toe ons kinders was.

“I can see the sea! I can see the sea!  I can see the sea “... tot vervelens toe het ons hierdie uit volle bors gesing-skree!  En ons twee dogters nou weer : “Ek sien-die –seee! Ek sien-die-seeee! Ek sien-die-seee!”

Padkos en vakansie is sinoniem, en albei word met tere herinneringe gekoester en op ‘n spesiale plekkie in ons harte gebêre.

Thursday, 9 April 2015



COFFEE
The first coffee plant was found in the mountains of Yemen.  Then by 1500 it was exported to the rest of the world through the port of Mokha in Yemen.
Thus was the birth and introduction to mankind!  How many folk have made this miracle bean part of their daily lives?
 “There are two methods of processing the coffee berries.  The first method is “wet processing”, which is usually carried out in Central America and areas of Africa.  The flesh of the berries is separated from the seeds and then the seeds are fermented - soaked in water for about two days.  This dissolves any pulp or sticky residue that may still be attached to the seeds.
The “dry processing” method is cheaper and simpler, used for lower quality beans in Brazil and much of Africa.  Twigs and other foreign objects are separated from the berries and the fruit is them spread out in the sun on concrete or brick for 2 – 3 weeks, turned regularly for even drying”  Wikipedia
Enough of technical details!  Now for the nitty gritty down-to-earth significance of the magical brew.
Ask any of your best friends what the first thing is that they desire when they wake up in the morning.  Most will say ...  COFFEE.  Not for me that time of day.  Delicious black, bitter rooibos tea gives me a good start for the day.  But, admittedly, in the vicinity of 10 am, my coffee-urge attacks me.  I feel lightheaded and a dull headache and obsessive thoughts of the “C” word overrule all other.
How many ways can coffee be made?  Well, the ordinary old instant coffee with cold milk is one boring option ... Second could be ground coffee in a plunger with hot milk.  My all-time homemade favourite is the freshly ground beans percolated, with milk which has been frothed to perfection.  This is my daily reward after I have done my chores around the house
When I walk around in one of our local shopping malls, the devilish fragrance of freshly ground coffee beckons me with its wickedly decadent twirls of aroma which waft directly to my ever-willing nose!  I take deep breaths and savour this – I cannot resist finding a table to order my daily fix!
Darn, I first have get rid of the tongue in my cheek so that I can enjoy my cuppa!  Good stuff!!

DIE  LEWE  IS  ‘N  LIED

Hier is ‘n versie wat ek geskryf het om my gedagtes oor die LEWE weer te gee





LIFE IS A JOY

This is a little poem which I wrote based on the abovementioned theme :







Wednesday, 8 April 2015

SONSKYN

Helder sonskyn wat oor die aarde skyn, beteken iets vir almal

Soggens vroeg wanneer die lug koel is en die gras nog natgedou is, is die skaduwees nog lank en koel.   Die grasperke is heldergroen en alles is vars en skoon.  Die strale streel liggies  die blomme en blare;  die voëltjies kwetter vrolik in afwagting van die nuwe dag wat aanbreek.


Teen twaalfuur skyn dit met mening.  Dan is die skaduwees op hul kortste.  Die middagson skyn fel en daar is nie veel skuiling vir mens en dier nie. Die dou het lankreeds opgedroog en verdamp.  Die plante wat nie genoegsame water gekry het nie, se blare hang effens - die miere en goggas werk onverpoos om hul dagtake te voltooi en die bye zoem tussen die blomme om nektar te oes.


Ek onthou toe ons as kinders die goue trompette van die  sonskyn-helder “Golden Shower” heining bygedam het.  Ons het die trompetjies afgepluk, eers seker gemaak dat daar geen miere daarin wegkruip nie, en toe die soet stropies daaruit gesuig!  Daar was natuurlik geleenthede wat van ons wél ‘n gogga of twee ook ingekry het!  Hoe smaak ‘n mier?  Wel effens branderig en effens suurderig!!  Ons het die kelkies ingeryg en sonskyn halssnoere en kroontjies gemaak.
Laatmiddag wanneer die skaduwees langer word, en die dinge van die natuur ‘n stadiger pas aanneem, word dit koeler en die skaduwees weer langer.  Dis die tyd van die dag wanneer mens die diere weer in hul krale injaag , en die tyd wanneer die melkkoeie stalle toe kom om gemelk te word.  Ouma-Ouma het nog daardie dae ‘n koolstoof gehad, en laatmiddag was die tyd toe dit gestook is om warm water vir aandbad te maak.  Die reuk  van die steenkoolrook  en die hane wat om die beurt kraai, sal altyd daaraan herinner.


Vroeg-aand is die skaduwees weer langer – alles begin teen ‘n stadiger tempo beweeg.  Dis die tyd wanneer mammas en pappas vanaf hul werk terugkeer, en tyd wanneer kindertjies opgewonde uitsien na hul tuiskoms.  Ons kon nie wag dat Mom by die huis kom nie.  Die eerste welkomwoorde wat ons uitgeroep het was :  waar is ons swieties?  Kan mens dit glo?  Mom was moeg gewerk en die pennies was maar skaars, maar elke dag was daar ‘n ietsie vir ons  in haar  sak, al was dit net vir elkeen ‘n niekkerbol of ‘n heuninggeur wilsonstoffie  ... wat sonskyn in ons lewens gebring het!

9 April 2015








We went on a trip to Namaqualand.  This is an example of one of the beautiful daisies which we saw


HOENDERS

Die hoender vorm deel van ons daaglikse lewe in baie vorms.

Heel eerste is geen ontbyt volledig sonder ‘n hoender-eier nie!  Of dit nou gebak, geroer of in die vorm van omelet is.  Ek onthou baie goed toe Ouma-Ouma haar eie hoenders in ‘n hok in hul agterplaas gehad het.  Vakansietyd toe ek daar gekuier het, was dit  my werk om smiddae die eiers uit die neste te gaan haal.  Ai, dit was vir my die grootste straf op aarde – daardie rooi hoenderhaan met sy skerp toonnaels,  sy bloedrooi kam  en kwaai oranje ogies was vir my soos ‘n monster wat net in nagmerries voorkom!  Ek moes net vinnig spring om die eiers sommer so in die sakkie wat gemaak is deur my roksoom op te lig, in te pak.  Menige dae was ek in trane, totdat Ouma darem uit die kombuis gekom het met ‘n Shoooo en Swaaiende arms.  Die probleem is gou opgelos en die eiers is toe veilig in die kombuis.  Ja, genoeg om enige mens die hoenders in te maak!

‘n Haan onder die henne ... dié is nou ‘n prentjie wat mens mooi in jou gemoed kan teken en inkleur.  Stel jou voor hoe pronk die meneertjie onder die hennetjies wat kloek-kloek  òf om weg te hol, òf om nader te staan!

Maak ‘n draai in die tuin : die hen-en-kuiken plant wat sommer self baie vermeerder sal waarskynlik iewers pryk.  Toe ek eers begin tuinmaak het, was hierdie een ‘n ou gunsteling wat nie baie versorging nodig gehad het nie.  Ek onthou die hangmandjie op die stoep, met die macrami-gevlegte tou hangmat wat van die balke af gehang het.  Die “cuphook” was so ewe skeef-skeef ingeskroef vir die doel.


Telkens toe ons kinders vir Mom kwaad gemaak het met ons ewige gestry en terg, het sy sommer die hoenders in geword en ons moes maar op eiers loop!  Maar boetie Dougie, wat maljan onder die henne was,  was ‘n regte kapokhaantjie wat gepik-pik en weggehol het.  Dan het hy met smaak koning gekraai, en ons dogters het natuurlik altyd ‘n eier te lê gehad oor sy manewales.  Daar was ook darem dae wat ons lekker saamgespeel het – om al in die rondte te draai totdat ons so dronk soos hoenders was.  Soms het ons so lekker baljaar, dat ons met die hoenders gaan slaap het.  Dit het natuurlik meegebring, dat ons soggens voor die hane kraai al wakker geword het.

Een jaar met Paastyd, het ons kinders elkeen ‘n kuikentjie van ‘n weldoener present gekry.  Dié was die allerfraaiste bondeltjies met geel donsies.  Die piepklein diertjies (elkeen met sy eie besondere naam) is met liefde en sorg vertroetel.  Snags moes hul in hul skoendoos langs ons beddens slaap.  Met tyd, het daar harde, donker stoppels tussen die donse verskyn, en hul beentjies het al langer en langer geword.  Donsies het plek gemaak vir regte egte vere, en voor ons ons oë kon uitvee, moes ons geliefde kuikentjies maar buite in Ouma se hoenderhok gaan woon!  Maar, ons hét darem die vreugde van die Paaskuikens ervaar!  Ek dink Mom was baie verlig toe ons die volgende jaar sjokolade paaseiers verkies het wat in kleurvolle blinkpaper toegedraai was.

Nou het ek my eiertjie gelê!                                                           8 April 2015

Taal : 7 April 2015

TAAL

Moedertaal : Is dit die taal van jou moeder, of die taal wat jy van kindsbeen af ken?  As jou moeder Afrikaans en Engels was, wat kan dan beskryf word as jou moeder se taal?  As dit die taal is wat jy van kindsbeen af ken, kan ek dalk sê ek is Engels gebore en Afrikaans ingesout, en nou volwaardig ‘n tweetalige mens.  Lekker deurmekaar, né!  Dan begin die siklus weer van voor af : watter taal kan ons dogters as Moedertaal beskou ...  die wiel draai aanhoudend!

My  Moeder
Om tweetalig te wees, kan nogal interessant wees.  Ek weet nie eintlik in watter taal ek droom nie : Engels of Afrikaans – maak nie saak watter een nie.  Wanneer ek bid, is dit in Engels; wanneer ek Bybel lees, voel ek gemaklik in Afrikaans, maar ek het steeds my Engelse Bybelvertaling waarop ek kan terugval wanneer ek so voel. 

Gewyde liedjies wat ek gesing het as kind, sal my altyd bybly (ons het sommer àl die versies in die Sondagskool en Kerk gesing).  Nou nog bring dit ‘n gevoel van heimwee terug in my gemoed wanneer daardie Hymns oor die radio gesing word.  Ja, ons luister nog radio – en ook die gewyde programme wat al hoe skaarser geword het!  Baie van die Hymns laat situasies en mense binne ‘n oogwink deur my gedagtes flits.  Dan kan ek verstaan hoe hulle kan sê dat as ‘n lewensbedreigende krisissituasie dalk opduik, jou hele lewe binne breuke van sekondes terugflits.  Nouja, hierdie Hymns doen dieselfde vir my – party laat my glimlag, en ander bring trane van herinneringe in my oë.

“All People that on Earth do dwell ...”  Ou Mr Heath was die Superintendent van ons Sondagskool, en elke Sondag was dit die openingslied – so op ‘n stàdige pas wat met mening op die vals klavier begelei is.  Dit was ellendig vir ons kindertjies om so lank te  sing, nog voordat die Sondagskool eintlik begin het!  Dan staan ek nog en bekommer my omdat ek nie die gegewe teksversie vir die dag geleer het nie.  Hoe kan hulle dan sê kinderdae is dae sonder stres en kommervry?

Ek kan nie Psalm 23 met sy deskant in die Kerk sing sonder om dit so saggies in Engels te sing nie!  Ag, dis maar net so ingebore en diep in my wese ingeprint.
Girls High in Pretoria se Vrydag-oggend saalbyeenkomste was aanskoulik.  1 200 meisiestemme wat uit volle bors hierdie Psalm in verskillende stemme sing, was genoeg om enigeen hoendervleis te gee.  Té lekker!

Mens kan borduur met taal en woorde : Die hond spring.   Die swart en wit kolletjies hondjie spring uitbundig en opgewonde op teen sy baas se bene wanneer dié by die huis aankom.  ‘n Gewone swartbord van woorde kan omskep word deur ‘n helder en kleurvolle tuin van woordbeskrywings wat mens met vreugde en afwagting verder wil lees.

Dìs ‘n paar van die wonders van TAAL                                                  7 April 2015

Bestanddele : 7 April 2015

BESTANDDELE

Neem bestanddele : meel, bakpoeier, suiker, eiers, kookolie.  Twee verskillende mense kan iets volgens hul eie keuse en smaak hieruit skep.

Die eerste persoon, wat nie eintlik van soetigheid hou nie, sal waarskynlik botterbroodjies wil maak.  Haar verhoudings van meel en suiker sal noukeurig uitgemeet word, en dan sal die ander bestanddele in die regte hoeveelhede daarop volg.  Net effens sal dit gemeng word voordat dit versigtig op ‘n meelbestrooide oppervlakte uitgerol en met ‘n koekiedrukker uitgedruk word.  Die botterbroodjies word dan liggies met geklitste eiergeel geverf sodat daar ‘n goudbruin kors gevorm word met die bak daarvan.

Die tweede persoon, wie se voorkeur soeter gebak is, se keuse sal wees om ‘n heerlike sponskoek aanmekaar te slaan.  Versigtig sal die meel en bakpoeier gesif word.  Die olie en eiers sal geklits word en dan sal die droë bestanddele bygevoeg word.  Weer sal hierdie beslag goed gemeng word voordat dit in ‘n gesmeerde koekpan geplaas word om te bak.

Elke oggend wat aanbreek, kan vergelyk word met die bestanddele wat voor die twee dames geplaas is.  Sonskyn, hemelblou lug, groen gras, voëltjies wat kwetter en helder, kleurvolle blomme wat mens sal groet.

Een persoon sal buitentoe strompel met dowwe, nikssiende oë wat met alles foutvind.    Die mond wat op ‘n plooi getrek word, sal geen vreugde kan wys nie.  Die son sal té warm skyn, die bome verloor hul blare op die nuutgeharkte grasperk, en die raserige voëltjies gee hoofpyn.  Die blomme wat helder blom, gaan tog môre verwelk, so daar gaan nie moeite gedoen word om vandag water te gee nie.

Nommer twee gaan na buite.  Met oop en helder oë word die wondere van die Natuur opnuut waargeneem en waardeer.    Die helder blou lug wat so skoon en vlekkeloos lyk, herinner aan ‘n skoon blad waarop die gebeure van die dag geskilder kan word.  Die kwetterende voëltjies wat heen en weer tussen die bome en blare rondvlieg en nessies bou, word raakgesien, en die voëlbad en  kosbak word vir hulle hervul.  Die blare wat vandag geil en groen is, sal waarskynlik binnekort verkleur – dan word dit herfs, wat in volle majesteit in al die skakerings van goud sal seëvier!  Die geil en kleurvolle blomme word met liefde versorg en die dooie knoppe word verwyder om plek te maak vir nuwes.  Water word gegee, want die dag sal waarskynlik warmer word – môre is nog ‘n dag wat weer die vrugte van vandag se liefde en sorg sal dra.

Ek kan nie help om vergelykings te tref tussen die twee baksters, die optimis en die pessimis nie.  Mens kan kies om botterbroodjies of heerlike sponskoek te bak.  Mens kan kies om soggens al die negatiewe dinge van die dag raak te sien, of mens kan die optimis wees wat àlles met dankbaarheid en vreug  ervaar!

Wie sal ek vandag wees?  Die keuse is myne!

7 April 2015
Die mooiste gawes van die Natuur!!

Sop : 6 April 2015

SOP


 Watter keuse is myne?

Dalk  is dit ‘n pot dik lensiesop, soos in die Bybel se dae, toe Esau sy eersgebornereg aan Jacob verkoop het in ruil daarvoor.  Hierdie sop moes darem maar heerlik geruik het nadat hy doogmoeg en uiitgehonger uit die veld teruggekeer het!  Ja, deesdae se lensiesop sal seker nie naby daardie reseppie van Jacob kom nie.

Of dalk is dit dik ertjiesop met die gebruiklike spek daarin.  Dit het al menige mense laat kwyl van lekkerkry,  nadat dit heeldag op die koolstoof geprut het en die geure daarvan dwarsdeur die huis getrek het.

Dan is daar boontjiesop -  natuurlik ook met lekker spek gemaak.  … Noodsaaklik om die “musiek” uit die bone te spoel anders kan dit ontploffings veroorsaak!

Heerlike dik groentesop of dun waterige groentesop?   Wel, die lekker ryk, dik en heilsame groentesop is darem maar vir my die lekkerste van almal.  Twee sappige “shinbones” met genoeg vleis en murg is noodsaaklik.  Dan ‘n verskeidenheid groente van eie keuse.  Soms is dit regte egte sopgroente soos ons in die oudae geken het …  nee, nie regtig so nie, want waar kry mens deesdae witwortels en rape in die bondel sopgroente saam met ‘n stewige handvol seldery en pietersielie?  Nogal ‘n tiekie se sopgroente soos ek uit my kinderdae onthou.  Mom het altyd, met haar fyn humorsin, gesê : “Nie te veel pampoene nie!”   Deesdae is dit sommer ‘n paar wortels, ‘n aartappel of twee, ‘n ui, selderyblare en ‘n klein  bossie pietersielie.  Nogal voordelig om so dan en wan die yskasdeur oop te maak om te kyk watter rykdom en mengelmoes van groentes daar die week oorgebly het van daaglikse kooksels.  Oorblywende slaai is ook ‘n goeie aanvulling!  Dit moet lank  op die stoof prut sodat die sopvleis sommer van die sopbene afval, en die groente moet die sop vanself dik kook!

As die groente dalk die sop nie dik genoeg maak nie, kan mens altyd die donderstokkie nadersleep (of mens kan dit  zirrts, soos ons dit in ons huis noem)!

Natuurlik moet die kastrol sop groot genoeg wees om so twee of drie margarienbakkiesvol vir die vrieskas oor te hou.  Dis nou vir die dae wanneer mens se kreatiewe daaglikse spyskaarte opgedroog het, of selfs wanneer mens net effens lui is om baie moeite doen.  Gelukkig is Manlief baie dol oor sy sop!

Daddy het altyd sý sop so slurp-slurp met sy lepel uit die sopbord geniet!  Nou-nog, sal ons nie sop kan geniet nie sonder om met ‘n vonkel in die oog, ‘n paar lepelsvol te slurrrp in herinnering aan ons oorlede Dad !


6 April 2015

Lolla : 5 April 2015

LOLLA


Ons kleine Lolla is nou pens en pootjies in ons  lewe!  Was nie àltyd so nie …

Chippy en Snowy was al baie oud en ons moes noodgedwonge, vol hartseer  en rou, hulle op dieselfde dag groet om ‘n pynvrye lewe in die hondehemel te hê.  Geen honne meer vir ons nie, was die eenparige besluit van ek en Manlief .

Nouja …

Eendag was Manlief baie besig in sy studeerkamer.  Bloekomboom-koop-en-verkoop aanlyn plekkie was heeltyd oop,  Ek stap so ewe ongeërg daar verby en sien iets van honne.  Mmm  Ek sê ook maar niks nie.  Volgende keer sien ek ‘n uitdrukstuk op sy lessenaar : Miniatuur maltesers te koop.  Mmm … ek sê ook maar niks nie.  Weer ‘n draai gaan loop en die volgende dag is die advertensie met rooi omkring.  Dié lê bo-op al die ander papiere! …  mmm ek sê ook nog niks nie!  Ek kon natuurlik nie meer stilbly nie – kom ons gaan kyk net hoe hulle lyk, sê Manlief.  Nouja, met noukeurige padbeskrywings en selfoonoproepe wat die pad na die plaashuis amper doer in die gopse aandui, kom ons darem daar.

Daar was twee wit bolletjies wol!  Onthou, ons KYK maar net!  Een van die tweetjies was baie voor op die wa, en het ons harte gesteel!  Toe kyk ons nie meer nie, maar het ‘n beursie vol geld gehoes om haar in ons huis te werwelkom.

Nou is sy ons aftree-kind.  ‘n Maksi-miniatuur malteser met ‘n groot hart en ‘n laaang tong -   die enigste bederfkindjie in ons huis, en sy kry al die liefde wat ons altyd op ons kinders uitgestort het toe hulle nog in die huis was.  Sy verstààn natuurlik alles wat ons met haar praat, en praat ook terug.  Pens en pootjies diep in ons harte het sy gekruip, en ons is salig gelukkig.

Ja, dit kom maar van kyk!!
Lolla wat 'n hondelewe ly!
5 April 2015

Something new in my life! I have decided to express some daily ideas in Afrikaans!

DIE ALTA

Die dag toe ek vir my onderhoud gegaan net – ék die gebore Ingelsman – moes ek die gebruiklike vrae wat deur die Beheerliggam en Skoolhoof gestel is, tot die beste van my vermoë beantwoord.  Wat is jou beste eienskap?  Mmm  Moet ek àl my bates voorlê, of net dié wat ek dink hulle graag wil hoor?  Wat is jou slegste eienskap? – Nou dìs nogal ‘n onregverdige vragie!  Moet ek noem dat ek tot middernag-en-later graag lê en lees, of moet ek vertel dat my naaldwerkkas taamlik onordelik gerangskik is.  Wat sal nie my kanse om die pos te kry,  in die wiele ry nie?  Toe kom die Ingelse vraag.  Gestel deur n stoere boer wat slegs Afrikaans magtig is.  Dit het hom seker baie bloedsweet gekos om die vraag te stel, en ek moes my been knyp om nie die glimlag wat gedreig het om my mondhoeke te laat bewe, die oorhand te laat kry nie!  Ewenwel, die pos was uiteindelik myne – ten spyte van my beste EN my slegste eienskappe.  Ek het seker die regte goed gesê!

Die eerste dag in die personeelkamer het aangebreek.  Mooi woorde van verwelkoming en ‘n see van vreemde gesigte het my oorweldig.  Die tweede dag het ek soos ‘n verlore skapie daar ingestap en sommer gaan sit waar ek die vorige dag  gesit het.  Ewe skaam vra ek die dame langsaan of daar spesifieke plekke is waar mens mag sit.  Nee, was die antwoord, mens sit sommer net waar jy wil.  Moenie glo nie.  Na ‘n hele week van ongemaklike oomblikke soggens, het ek maar besluit op ‘n sekere plekkie by die venster.  O wee, net die verkeerde besluit.  Antie het ingemarsjeer gekom en op ‘n nie-so-vriendelike manier met stywe lippies my meegedeel dat ek kwansuis op haar plek sit!!  Die sakie van die sitplekke is  darem uiteindelik opgelos. 

Die parkeerplekke is natuurlik ‘n ander storie wat op soortgelyke wyse afgespeel het.

Daaglikse roetine het stadigaan begin en ek was meer op my gemak.  Die eers vreemde gesigte het later minder vreemd voorgekom, maar die name was maar nog steeds ‘n duisternis in my kop.  Baie private byname, wat nie met ander gedeel is nie,  is deur my aan sekeres toegeken :  Klein Mannetjie, Oumatjie, Kleintjie, Feëtjie, Skynheilig, Tierkat, Uncle en Suutjiespoep – om net ‘n paar te noem!  Daai name het tot die einde van my loopbaan in my kop gebly!

Ou Stella se lekker Wimpiekofie, wat nét sy kon maak, was elke oggend se hoogtepunt.  Later het die Hoof ook daarvan uitgevind, en af en toe moes Stella maar inspring en drie in plaas van twee koppies maak!!  Later het ons meer gesondheidsbewus geraak, en die Wimpiekoffie het agterweë gebly om plek te maak vir ons eie swart Jacobskoffie, met kunsmatige versoeters!



Wanneer daar per geleentheid eetgoed in die personeelkamer was, was dit altyd dieselfde aasvoëls wat eerste daar was om hul borde vol te prop.  Ek en Stella het altyd spesifieke mense dopgehou en lekker gelag oor die oorlopensvol borde wat gepak is – siestog, hulle het seker maar verdien om dit te doen.  Dalk kry hulle nooit tuis iets lekkers om te eet nie.  Wie weet!
4 April 2015

Grové eerste skooldag 2012

Leo-né eerste skooldag 2012